Ons het reeds op hoërskool ontmoet, maar ons sou nooit kon raai dat ons vir mekaar bestem is nie! "Ek onthou die outjie wat so twee sitplekke voor my gesit het in Wiskunde Gelets! Hy het meer agter hom gekyk as voor hom. Ek onthou ook hoe ons Meneer eendag toe Claude afwesig was gesê het dat ons die mannetjie moet dop hou, hy gaan nog baie sukses behaal en homself op werk in die lewe. Dit is 'n baie hardwerkende seun, was sy woorde. Ek besef nou dat God selfs daardie tyd al 'n saadjie begin plant het, een wat ek nooit besef het sou in 'n woud ontstaan nie!" - Maxine "Sy was die nuwe meisie in die skool, ek onthou haar as 'n vriendelike meisie, sy was ook die slim een, en het altyd haar hand eerste op gehad. Sy het ook ALTYD geëet! Sy het gereeld vir die meneer mooi laat verstaan dat sy goeie punte kry en daarom kan sy maar in die klas eet as sy wil! Ek weet regtig nie hoekom ek nooit moeite gedoen het om haar beter te leer ken reeds daardie tyd al nie, maar ek weet wel God se tyd is perfek!" - Claude
"My pa het eendag huis toe gekom en my gevra of ek ooit so rooi-baard laaitie onthou van skool. ROOIBAARD?? Umm nee ek dink nie so nie, inteendeel was hulle baarde geskeer, so hoe sal ek weet? Was my antwoord. Hy het later ook sy naam onthou en toe besef ek skielik wie hy van praat. Sjoe, maar het my pa nou die ou se lofprys besing! Ek was op die stadium 'n baie anti-mansmens enkelmamma, maar terwille van my pa sê ek toe ja vir 'n koffie saam die rooibaard outjie. Toe hy uit sy bakkie uitklim het ek besef dat Claude, beslis nie meer die laaitie van skool was nie! Hy het my in 'n groot drukkie omhels en my kakebeen het ampertjies die grond getref. Een koffie date het vinnig in 'n weeklikse roetine ontaard en ons vriendskap het al hoe sterker geword. Ek was lekker vol tjol en het hom eers goed gefriendzone, maar ek kon myself nie help nie, voor ek myself kon kry was ek hals-oor-kop verlief op hom!"- Maxine "Ek het seker 50 keer daardie eerste Facebook message (waar ek haar gevra het of ek kan kom koffie drink) oor getik! Elke aand het ek dit getik en weer uitgevee. Eventually, met Oom Max se hulp, gebeur die koffie toe uiteindelik! Sjoe, toe Maxine daardie hek oopmaak, het ek nie verwag om onder my voete uitgeskop te word nie, maar joh sy was pragtig. Ek het dadelik gewonder hoekom ek nooit 'n move try maak het op skool nie. Sy stel my aan Leah voor en die klein stouter het net daar my hart gesteel en met hom weggehol. Daardie aand was ek tickets, ek het net daar en dan besluit, hierdie is my trouvrou en ek gaan alles insit om haar myne te maak. Jinne hoor, maar sy het my omtrent daarvoor laat werk, maar hoe sê hulle, 'n aanhouer wen. Oom Max sê een aand toe ons gaan bosvark jag vir my, miskien moet jy net jou baard afskeer, jy weet, Maxine like nie baarde nie. Dit was hartseer, maar ek was verlief okay?! Daardie volgende dag het die baard gewaai. Nou ja, ek weet nou nie of dit die baard was of iets anders nie, maar so rukkie daarna was ons gekys!"- Claude
Ons het vinnig besef dat ons die res van ons lewens saam wil spandeer en ons kan getuig dat God dit alles vir ons so vinnig moontlik gemaak het. Hy het gesorg dat alles binne maande inplek val vir ons om te kan trou. Nou ja, hier is ons nou, amper voor die kansel!